Torrabaai....laaste werklike rus en vrede!

Doer in die vorige eeu het die manne van ou Suidwes mos hulle vakansieplek gaan soek op Hentiesbaai, maar, soos die jare gevorder het, so het die huise van hout bungalows verander na steenhuise toe en al verder weg van waarvoor die manne see toe gekom het en al nader na die huis van die vrou. Die klomp noorderboere het mos toeka al besluit dis te ver om af te ry eers middeland toe en dan kus toe, toe kap hulle hom sommer hier verby Springbokwater en kry staning by Torrabaai.
Sommer so op die pad al het die sports begin, want daar was nie behoorlik pad nie in elk geval en het die manne met hulle lading vakansiegoed gekom wat gemeen het die lorries en bakkies was swaar gelaai met alles oorte goete, soos slagskape, hoenners en kaste drank. Van die moeiliker plekke om te oor was daar waar Dopsteekhoogte vandag is....en hy was presies dit. As jy daar oor was dan was dit soort van afdraende see toe en die drinkery kon in alle erns begin. Ek meen, die kar loop dan mos afdraende en sy baas hoef hom net soort van wes te hou, dan's alles lekker.
Op Torrabaai het die manne dan kamp gemaak en gekuier en burgemeester elke jaar gekies...die ou wat die langste kon bly staan na so 'n 'verkiesing-suipsessie' waar die manne om 'n skottel le gemaak het en gedrink het. So het hulle die Krismis omgekuier en as die drank, die vleis en anner goete op was, dan gooi hulle weer terug, opdraende terug plaas toe. Enigiemand wat so 'n Torrabaai Krismis beleef het, sal vir jou vertel dis 'n ding wat jy nooit, ooit sal vergeet nie.
Nou, Torra le mos in die Park en hy's net twee maande van die jaar oop, Desember en Januarie. Desember is die plek tjok en blok vol van mense wat hulle vakansie geniet. Maar sodar die ou jaar gebreek het, dan vat hierdie manne die pad terug en dan is daar 'n maand vir ander mense wat lekker wil gaan visvang en hulleself wil gaan geniet. Meestal plaaslike mense wat weet van Torra en sy magic. Dis dan wat jy die vrou by die huis los, jou pelle naderskraap, jou kampgoedjies pak en die lang pad Torra toe vat en gaankamp maak en ...hoofsaaklik visvang.
Daar is so 'n paar goete op Torra. Natuurbewaring het 'n kantoor en winkel daar wat belangrike goete soos dop, brood en aas verkoop. Die brood kom ver en is nie altyd so vars nie, maar as jy in die regte verhouding koop, dan smaak die brood orraait hier na die tweede kap! Daar is darem diesel en petrol ook. Ook kleinhuisies en storte vir wanneer jy te erg begin stink.
Maar die see. Die see is wonderlik en vol vis. Die brul hier so van die kant naby jou kop af in die nag en jy slaap 'n dooie dood elke nag....dis nou nadat die son vir jou 'n oranje tjeers gese het. Die volgende oggend vroeg strompel jy uit om die oranje son weer in die ooste te sien en 'n koffie en beskuit in jou moee lyf te kry na die vorige nag van 'onthouding'. Dan is dit visstokke pak en weg see toe.
Die manne is naderhand rooi soos krewe gebak in die son. Almal loop kaalvoet rond en niemand gee om as jy knerts sommer so in die openbaar nie. Die manne geniet hulleself want hier in die sand van die ou Namib, is die laaste werklike plek van vryheid....waar manne weer manne kan wees.

Add comment

The content of this field is kept private and will not be shown publicly.
All rights reserved. © Drive Out 2009. Published in South Africa by Media24
Digital Media and Marketing Association