Jy mors nie met modder nie

Soms trek waaghalsige meisies wat viets van middellyf en diep van halslyn is, skrapse swemdrag aan en stoei daarin. Nie omdat dit noodwendig vir hulle lekker is nie, maar omdat hulle betaal word. En dit vir die mense wat kyk, so lekker is.
Kinders bak ook koekies daarmee en babers gaan lê daarin om nog ’n seisoenale droogte te kan oorleef. Ons praat natuurlik hier van modder… bedrieglike, lieflike, glibberige modder.
Buiten bogenoemde word dit al eeue lank deur digters en sedepredikers gebruik om die donker kant van die lewe te beskryf. As jy in die modder saam met varke rondrol, word jy self ’n vark, het jou ma immers vroeg en vingerwysend teen verkeerde vriende gemaan.
Moraliteit en ander smerighede ter syde, is modder ook die ding voor wie selfs die gehardste reisiger van die minder bewandelde pad soms terugdeins. Kenners meen dis die oorsaak van die meeste duike en stampe aan viertrekvoertuie wat op grondpaaie beland.
Dit kan allerlei gedaantes aanneem, waarsku hulle in reisgidse en op die internet. Versigtig veral as jy moet afdraande neuk in die gladde spul.
En as jou voertuig eers in ’n dwaalspoor beland of van kant tot kant begin gly, is dit so te sê neusie verby. Die stuurwiel word dan net iets om aan vas te hou terwyl jy wonder teen watter boom en teen watter kant van jou kar jy uiteindelik tot stilstand gaan kom.

Een van my eerste kennismakings met wat kan gebeur as ’n voertuig en modder bymekaar kom, was in die sogenaamde Bokkiepark buite Umtata (deesdae Mthatha) waar ek destyds op skool was. 
Ek en my maters het my ma se Volkwagen Kewer een Saterdagoggend “geleen” om ’n bietjie in die Bokkiepark rond te ry. Nie soseer om die natuurskoon te bewonder nie, maar in die Bokkiepark kon jy redelik seker wees dat jy jou nie gaan vasloop in ’n verkeerskonstabel of ’n gesinsvriend met ’n los mond nie.
Dit was een van daardie dae dat die ou Transkei hom tot onder die neus toetrek met ’n kombers van sagte grys reën. Die soort reën wat die heuwels groen laat bult tussen pluime mis… en die grondpaaie los met ’n blink belofte van sorgvrye pret en water wat spat.
Op plattelandse grondpaaie leer jy soms vroeg al bestuur. Selfs hoe om die agterkant van ’n kar los te laat in ’n draai en die hele gedoente dan reguit te trek met ’n behendige wisselwerking van stuur en brandstofpedaal.
Ga! Gaan vertel dit vir modder, en hy lag jou uit. Soveel so dat ons gou-gou kortasem en grootoog van skrik etlike meter van die pad teen ’n geknakte aalwyn ons sinne moes sit en herwin.
Gelukkig was daardie ou Kewers nog ’n yster in die letterlike sin van die woord, en ná ’n vinnige was in die agterplaas kon almal die aand die onbesoedelde slaap van onskuldiges geniet.
Van toe af het ek modder met meer ontsag begin behandel. Ons het tot die vergelyk gekom dat ons minstens ordentlik met mekaar sal wees as ons paaie uit noodsaak moes kruis.




Deur die jare het grondpaaie hul bekoring bly behou en toe ek my liefde vir motorfietse en grondpaaie eindelik kon versoen, was die wêreld mooi. Twee soorte padoppervlaktes laat my egter steeds effe lugtig: sand en my ou vriend, modder.
Vir sand het motorfietsryers gewoonlik ’n oordaad van raad. Jy kan jou byvoorbeeld verlaat op die mantra van “Staan op, kyk op, en maak oop”.
Dit is egter ’n effe misleidende stel reëls omdat veral nuwelinge meen die “maak oop”-gedeelte beteken dat jy die vark se oor moet bly draai totdat jy teen duiselingwekkende snelhede oor die sand vlieg.
Wat ’n beklemmende vooruitsig is en boonop indruis teen alle instinkte van selfbehoud.
Help dié teorie om van ’n mens ’n beter sandryer te maak? Net as jy onwrikbaar daarin glo, want op die ou end is die suksesvolle sandryer die ou wie se kop reg is.
En die meeste van ons bly maar van daardie soort mense wie se geloof van tyd tot tyd laf kan word.

Gewapen met al die kennis, knoppiesbande en nuwe progressiewe vering aan die voorkant van die fiets vertrek ek en drie maters onlangs op ’n tog wat ook deur die suide van Namibië sou draai.

Om my reisgenote te beskerm, kry hulle skuilname – sommer Piet, Gert en Koos. En om die fietse se vervaardigers te beskerm, word die fabrikate (almal verskillend) ook nie vermeld nie.
Die nuwe knoppiesbande en die vering is vir die stukke sand wat ons aan die Weskus en in Namibië sou aantref. My innerlike oortuiginge oor my vaardighede in sand staan nie sterk nie, maar soos die ryk man in die Bybel is ek bereid om deur die oog van ’n naald te skuur om die reis mee te maak.
Ons vertrek uit Kaapstad in die reën, maar niemand is te bekommerd nie want dit reën mos nie eintlik verder noord as die Piekenierskloofpas tussen Piketberg en Citrusdal nie. Buitendien ry ons die eerste stuk net teer.
By Clanwilliam val die water egter steeds en toe ons by Garies op die grondpad na Hondeklipbaai afdraai, sous dit behoorlik. Van binne die valhelm praat ek myself moed in: Die reën behoort darem die sand minder los te maak; dit kan mos nie in hierdie geweste modder raak nie.
Die modder lag egter gou. “Kyk net hoe dik lê ek nou…”

Gert is die eerste slagoffer toe hy sy fiets sonder veel omhaal netjies langs die kant van die pad neersit. Hy en die fiets is nietemin blitsig weer op die been en op die pad.
Ek is vlak agter Koos toe sy fiets eers een kant toe swenk, en eensklaps al vinniger heen en weer wiggel voordat fiets en mens met malse bewegings van mekaar afskeid neem. Jy sien net bagasie spat. Niemand kom egter iets oor nie en nadat ek en Koos sy fiets orent gestoei het, gly die safari voort.
Piet se fiets is die nuutste en daarby is sy baas ook die mees bedrewe ryer onder ons spulletjie. Of dit die knoppiesbande of die nuwe vere was, weet ek nie, maar gaandeweg begin ek ook al tuiser voel en ons draf later vlak agter Piet aan.
Anders as met sand, voel modder net meer intuïtief, meer iets vir die sensitiewe siel, klop ek myself in die ry op die skouer. As iets begin gly, draai ’n mens die souskraantjie net effens toe, en as jy die agterwiel teen meer vaste grond voel skop, draai jy effe oop.
Daarby het ek ook ’n vernuftige toertjie wat ek deurentyd bly verfyn. As die fiets begin gly, druk ek my agterstewe in die lug en na agter – amper soos ’n San-jagter wat die spoor vir ’n oomblik verloor het.
Dit is nie mooi nie en ek sou nie graag ’n foto daarvan aan ’n spesiale vriendin wou stuur nie, maar dis deksels doeltreffend.
Soos in alle goeie stories, kom hoogmoed altyd voor ’n val. Die kraantjie gaan al gouer en wyer oop, en te gou lê ek in die einste modder. Ek trap so al wat ek kan om die fiets in die pappery na boontoe te dwing, maar die ryk man wil nie deur die naald van die oog nie, want hy gly homself simpel in die modder.

Uit ons groep is dit net Piet wat bo bly tot by Noup se visserhuisies waar ons die aand oornag. Maar die volgende oggend sou modder begin wraak neem op ons vermetelheid om hom te durf ry.
Eers wil Koos se fiets nie aan die gang kom nie. Almal is by met raad en daad, maar ons vermoed modder is die misdadiger. Uit suiwer frustrasie stel iemand voor ons gooi ’n emmer warm water oor die enjin net om seker te maak die modder klont nie êrens vas nie. En wragtag, daar loop hy.
Piet druk die aansitter, maar ook sy fiets bly stom. Soos in die geval van Koos se fiets is dit eers af met die saal en ander bedekkings terwyl ons allerlei met meer onkunde as wysheid bevroetel.
Gooi water, koor ons eindelik, en daar loop hy ook.
Wat my egter die meeste van die petalje sal bybly, is toe ons die vorige aand op Noup die dag se gebeure in oënskou geneem het. Die vuur het gesellig geknetter, daar was kos in ’n pot en proviand in die bekers in ons hande.
“Om sand te ry is beter as modder,” het Piet ’n oordeel uitgespreek. “Ten minste kan jy in sand op die pegs gaan staan, oopmaak en skreeu: Val aan, val aan! Met modder weet jy nie mooi wat om te doen nie.”
“Throttle control,” het Gert gesê (dit klink net soveel beter as “versnellerbeheer”). “Modder leer jou throttle control.”
Ons het geteug aan die proviand en diep gedink. Die stoom het gestaan uit ons ryklere wat oral voor, bo en langs die vuurherd gedrapeer was. Die stewels het in plasse op die vloer gestaan.
Dis Koos wat die stilte verbreek het. “Die ding van modder,” het hy nadenkend gesê, “is dat jy hom só moet ry dat hy nie agterkom jy ry op hom nie, want dan raak hy kwaad.”
Inderdaad, Koos. ’n Mens sukkel nie met modder nie.

Add comment

The content of this field is kept private and will not be shown publicly.
All rights reserved. © Drive Out 2009. Published in South Africa by Media24
Digital Media and Marketing Association