O ja, gelukkige lentedag. Soort van.

Die lente has pas aangebreek. Nie dat iemand dit vir die weerman gesê het nie, want dit sous vandag lekker in die Kaap. Dis nie of ek kla nie, want as die reën uiteindelik ophou, gaan die wind oorneem. En so gaan dit aan tot omtrent einde Januarie.
Is dit hoekom die enigste Kapenaars wat jy oor Desember-vakansie in die Kaap sal kry spietkops, winkeliers en kelners is? Want die res van ons vlieg ore in die nek hier weg na ’n rustiger, minder besige en minder winderige plek.
Sommige gaan Weskus toe. Dis stil en ongerep. Wat ’n goeie ding is, tensy jy ’n tiener is. ’n Kennis vertel anderdag dat hulle kleintyd elke Desember iewers op die Weskus gaan kamp opslaan het. Sy was blykbaar al in die hoërskool toe sy gehoor het die see is nie oral vrek koud nie.
Ek was onlangs vinnig in die Krugerwildtuin en ek dink daar was baie tieners wat eendag oor die plek gaan voel soos daardie vrou oor die Weskus. Maar om ander redes. Dis ongelooflik hoeveel motors daar is. En waarvoor hulle stop. Sommer dwars oor die pad. Trouens, ek dink die diere is net so gefassineerd deur die tropgedrag van die mense as andersom.
Nou begin ek klaar plan maak vir my volgende wegbreek. Ek dink dit gaan rakelings verby die Cederberge, Wuppertal om na Clanwilliam. Of dalk gaan ek stof maak op die R355 na Calvinia in die hart van die Hantam-Karoo.
Eintlik maak dit nie saak nie. Solank ek net wegkom van die wind. Want ek’s nie ’n spietkop, winkelier óf ’n kelner nie.
O ja, gelukkige lentedag. Soort van.

Add comment

The content of this field is kept private and will not be shown publicly.
All rights reserved. © Drive Out 2009. Published in South Africa by Media24
Digital Media and Marketing Association