Môre is dit jóú beurt

Vandeesweek bel Mike, ’n pêl van my. Hy klink benoud. “Ons is in Wuppertal. Die bike se agterwiel is geboggher. Omtrent al die speke is af.” 

Wat nou? Omdat Wuppertal ’n sendingdorpie is, is daar ook geen alkohol te koop nie. Hel, hulle kan dus nie eers oor ’n bier of twee kajuitraad hou nie!

“Wag, ek bel gou vir John.” John werk vir sy pa se vervoeronderneming in Tulbagh. Dis 150 km weg, maar dis die enigste plan wat ek het. John het ook ’n bakkie. En hy ry ook grondpaaie met die motorfiets. As daar een ou is wat kan help en sal verstaan, is dit hy. Ek sit in Kaapstad, omtrent 300 km weg. In ’n kantoor.

’n Ruk later bel John terug. Hy’t ’n agterwiel van sy motorfiets afgehaal en is al op pad in sy Ford Ranger Wuppertal toe. Uiteindelik kry hy die twee manne en gee sy eie motorfiets se agterwiel vir Mike sodat dié sy tog kan voortsit.

Hy’t nog nooit voorheen in sy lewe vir Mike ontmoet nie.

Wat is die “moral of the story”? Dis dat ons elkeen teëspoed kan hê as ons die agterpad vat. En dat jy ander mense moet help as dit met hulle oorkom. Want môre is dit jý wat hulp nodig het.

“Nee,” het John agterna gelag. “Dit was sommer niks nie. Ek is al baie meer deur ander mense gehelp as dít!” Wat my punt bewys. Soos hulle in Engels sê: “What goes around, comes around.”


Add comment

The content of this field is kept private and will not be shown publicly.
All rights reserved. © Drive Out 2009. Published in South Africa by Media24
Digital Media and Marketing Association