Ek en my vrou Magriet, en ons drie kinders, het ’n fantastiese langnaweek gehad saam met ’n klompie manne van die Land Cruiser-klub (www.landcruiserclub.co.za) onder leiding van die bekende Weskusgids, Piet van Heerde (www.virosatours.co.za).

Ons het eenvoudig verlede Vrydag tot op Kamieskroon gery, die aand oorgeslaap, en Saterdagoggend die Rooikat Ekoroete deur die Namakwa Nasionale Park begin ry. Saterdagaand het ons net suid van Hondeklipbaai gekamp (naby die Spoegrivier se mond), en Sondagaand ’n entjie verder suid (naby Groenriviermond). Maandag het ons al die pad teen die see tot by Velddrif gery, en van daar af teruggeskiet Kaap toe.
Dis ’n welbekende roete, en dit het ook al in WegRy verskyn, maar hier is my persoonlike indrukke en wenke. Ek sal ’n effens meer omvattende storie in die Desember of Januarie uitgawe publiseer.
(As jy die Weskus ken, moenie verder lees nie. Hierdie is vir mense wat van elders kom.)
Dis ’n welbekende roete, en dit het ook al in WegRy verskyn, maar hier is my persoonlike indrukke en wenke. Ek sal ’n effens meer omvattende storie in die Desember of Januarie uitgawe publiseer.
(As jy die Weskus ken, moenie verder lees nie. Hierdie is vir mense wat van elders kom.)

1. Die Kamieskroon-hotel se selfsorgeenhede is nie te duur nie (maar beslis ook nie goedkoop nie). Ons het R600 betaal vir ’n huisie waarin twee grootmense kon slaap, twee kinders op ’n sleeper couch en ’n baba op sy eie matras.
2. Die blomme is op die oomblik baie mooi op plekke, maar nie oral nie. Naby die kantore in die ou Skilpad reservaat (nou deel van die Namakwa NP), staan dit bankvas oranje.
Tussen skilpad en die see (oor die Wildeperdehoekpas en oor die vlakte), is daar nie baie blomme nie, maar teen die kus is die duine oortrek van die blomme.
Van Hondeklipbaai tot suid naby die Olifantsrivier het ons die mooiste blomme gesien, en ’n hengse verskeidenheid.
3. As jy die Rooikat Ekoroete (Caracal Ecoroute) ry, en jy wil die Wildeperdehoekpas insluit (jy kan dit uitsny en kortpad vat), en jy wil die aand teen die see kamp suid van Hondeklipbaai, maak seker jy is by die hek as die reservaat 07:30 oopmaak. Die roete kos R100 ekstra, behalwe vir die bewaringsfooi.
4. Dié tyd van die jaar is uitstekend, en die blomme sal nog tot in September mooi wees. Hou die weervoorspelling dop en laat waai – Christo Giliomee wat saam was sê hy gebruik www.freemeteo.com vir baie akkurate weervoorspellings. Dit was koel in die aande maar nie yskoud nie. Die wind het ook saans gaan lê.


5. Jy kan op kort kennisgewing op die kus van bo by Koingnaas tot onder by die Olifantsrivier kamp.
Die boonste deel, tot by Groenriviermond, is Namakwa Nasionale Park. Bel net die Skilpadkantoor en laat weet jy kom – 027 672 1948.
Onderkant Groenriviermond gaan jy De Beers se gebied binne. Meeste mense ry net in en kamp waar hulle wil, maar dis beter om De Beers vooraf te laat weet jy kom – 027 807 2102
6. Ek is verstom dat daar nog so stuk ongerepte kus is waar mens gratis en verniet kan gaan kamp soos jy wil, en as jy die regte lisensies en vaardighede het, uit die see kan leef (koop net ’n sak patats en nartjies oppad, by Kom Proe buite Citrusdal).
7. As jy net op die kus wil gaan kamp (hoogs aan te bevele), kan jy van onder af inry, van Garies, Bitterfontein of Lutzville af.
8. Vat waterstewels vir jou kinders.
9. ’n Bottel whisky met ’n halfkoppie goue stroop of heuning is baie gaaf om so nou en dan van die spinnerakke ontslae te raak.
10. En het jy ’n 4x4 nodig? As jy rerig goed kan ry sal jy alles in ’n 4x2 met ’n difflock kan doen, mits jy nie afry in die baaitjies in nie, en mits jy sterk 4x4 voertuie saam met jou het.
Dis dit dan.
Stuur gerus vir my ’n boodskap op redakteur@wegry.co.za as jy nog inligting soek.

Additional images:






Recent blog posts
- Die Bakkieprojek: Deel 8 - ONS HET HOM!
- Die Bakkieprojek: Deel 7
- Die Bakkieprojek: Deel 6
- Die Bakkieprojek: Deel 5
- Die Bakkieprojek: Deel 4
- Die Bakkieprojek: Deel 3
- Die Bakkieprojek: Deel 2
- Die Hilux-kompetisie is verby… Dis tyd vir die volgende een!
- Hilux’e net waar jy kyk (en ’n paar Cruisers tussenin)
- Ons 4x4-verjaardagviering





Add comment