|
|
|
-25.514310, 29.567130
|
By die Buffalo Gorge Eco Adventure-sentrum naby Middelburg, Mpumalanga, kan jy op ’n paar taai hindernisse oefen tót jy dit onder die knie het. Maar jy kan ook laat waai in ’n “sagte” veldvoertuig, skryf Peter Levey.
As jy ’n slag op ’n 4x4-roete naby Gauteng wil gaan oefen om ’n rivier oor te steek of oor rotse te kruie, mik na die Buffalo Gorge Eco Adventure-sentrum naby Middelburg, Mpumalanga.
Buiten ’n graad 2-3 4x4-roete (waarvan dele ook deur ’n 4x2-bakkie gery kan word) is hier ook ’n speelplek waar jy die Bobbejaanlooprivier 16 keer kan oorsteek – dit wissel van ’n graad 2-oorgang (wat ook deur ’n 4x2 bakkie oorgesteek kan word) tot ’n graad 5-nommer oor klippe en rotsblokke en op met ’n glibberige wal waar jy nog ’n stel oë buite die kar gaan nodig hê. Opleiding in 4x4 ry kan ook gereël word.
Jy kan ure lank in die rivierbedding baljaar en jou vaardigheid op die hindernisse beproef. Maak net seker jy doen dit in ’n groep sodat iemand gids kan speel en jou oor die hindernisse beduie.
Nadat ons van die N11 tussen Middelburg en Groblersdal afgedraai het, volg ons die bordjies na die avontuursentrum, 36km noord van Middelburg.
By die ontvangstent in die kampterrein verwelkom die eienaar, Ryk Diepraam, ons en deel die vrywaringsvorms en ’n goeie roetekaart uit. Die sewe uitkykpunte op die roete word duidelik op die kaart aangedui.

Die 4x4-roete is ’n 18km lange sirkelroete wat by die kampterrein begin en antikloksgewys al met die platorand bo die Avontuurvallei langs loop. Altesame 4km van die platorand vorm die oostelike grens van die plaas.
Aan die begin van die roete neem Ryk ons vir ’n kort staptog in die bos na die bouval van ’n ou klipkraal. Hy verduidelik watter fantastiese werk die klipmesselaar in die vroeë twintigste eeu gedoen het – sonder sement! Ons stap terug kar toe en laat waai op die roete.
Die roete loop meestal op ou plaaspaadjies oor grasvlaktes. Die spore kan in die somer oortrek wees met lang gras, maar dit word af en toe gesny om die roete in stand te hou.
Kort nadat ons weggetrek het, ry ons verby die bouval van ’n skoolgebou wat in 1922 opgerig is. Dis omring deur bome. Ek kyk na die foto op die kampterrein se kennisgewingbord van ’n klompie kinders wat hier skoolgegaan het, en wonder wat van al daardie skoon, oop gesigte geword het.
Ná ’n ruk loop die roete al met die kranse langs – jy kan enige plek stilhou en abseil, rotsklim of jou sommer net verkyk aan die uitsig oor die Avontuurvallei langs jou. As jy gelukkig is, sien jy dalk net hoe ’n witkruisarend in die vallei sweef…

Jy hoef nie superfiks te wees om by die uitkykpunte uit te kom nie – hulle is almal net ’n kort ent se stap van die pad af, en jy kan met ’n geruste hart jou voertuig langs die roete los.
Gordel vas!
Ná ’n taamlik maklike rit oor die grasvlakte parkeer ons die voertuie naby die plek waar ons ons piekniekmandjie vir middagete gaan uitpak, en stap dan die laaste entjie. Jy’s bo-op die kranse, met ’n uitsig duisend, en as jy wil, kan jy hier braai.
Die ouens wat teen dié tyd al té rustig voel, kan gou 50m teen ’n krans gaan abseil, en dan weer boontoe rotsklim wanneer hulle onder kom.
En as jy nie hoogtevrees kry nie, kan jy hier by Ryk se Klip ’n foto laat neem – dis ’n massiewe rotsblok gebalanseer op die rand van ’n afgrond.
Van die eetplek af het jy drie opsies: Jy kan aangaan met die hoofroete as jy ’n hardekool 4x4 het, die alternatiewe roete neem vir 4x2’s, of, as jy ’n “sagte” 4x4 het, kan jy kortpad terug kamp toe vat.
Die 4x4-roete loop oor ’n deel met diep erosiegate, en hier moet jy die regte lyn kies om te keer dat jy met twee wiele in die lug in oorkruisgate hang. Dan daal die roete skerp deur ’n smal deel wat met sement bedek is – om verdere erosie te keer – voordat jy weer op ’n oop vlakte uitgespoeg word.
Ons mik na ’n rotsbank waarvandaan jy op twee maniere tot by die omdraaipunt by die Dassiestoel-uitkykpunt kan kom. Die maklike roete aan die linkerkant van die rotsbank vleg tussen rotse en skeure deur.
Omdat ons effens meer avontuurlustig is, kies ons die meer uitdagende roete van 100m bo-oor die rotsbank en kruip oor die rots. Jy moet baie versigtig wees om die regte pad oor die rotsbank te kry – eers moet jou wiele op die regte plek kom, en dan moet jy die regte lyn volg. Dis hier waar jy iemand nodig het om uit te klim en te kyk waar jy ry.
Ons ry terug op ons spore na die vlakte toe, waar die roete deur ’n diep donga met ’n regop wal loop – in die somer, wanneer dit broeiseisoen is, broei honderde rooikeelbyvreters hier in die wal. Al is hier geen geriewe nie, is dit ’n heerlike plek om kamp op te slaan (jy moet dit vooraf reël). Hier is darem drinkwater.
Van die donga af ry ons terug na die tweespoorpad waarmee ons gekom het, en ry dan tot by ’n bordjie wat wys ons moet regs draai. Dié afdraai gaan tot by die volgende braaiplek, waar jy naby ’n fontein kan ontspan.
Van hier af loop die roete verby ’n dam terug na die kampterrein – waar jy kan stilhou en jou verkyk aan die magdom watervoëls en vinke.
Terug by ons tent in die kampterrein kan ons agteroorsit en ontspan in een van die vreedsaamste kampterreine – diep in ’n inheemse woud, in ’n kloof, met ’n stroompie wat verbykabbel…

Wat jy moet weet
Hoekom moet ek gaan?
Dis ’n heerlike wegbreek in die ongerepte natuur - naby Gauteng.
Op die roete
Hoe lank is die roete? 18km (Hier’s ook ’n kort rivierroete waarop jy die water 16 keer oorsteek.)
Hoe lank gaan ek ry? 4 uur
Maksimum aantal voertuie? Geen beperking
Kry ek ’n kaart? Ja, ’n goeie kaart.
Gaan my kar gekrap word? Nee
Moet ek my treeplanke afhaal? Dis nie nodig nie.
Kan ek halfpad omdraai? Ja, daar is ook korter roete-opsies.
Kan ek op die roete braai? Ja
Is daar ablusiegeriewe vir dagbesoekers? Ja
Kan ek wild sien? Nee
Om die roete
Beste tyd om te gaan? Heeljaar, maar dit kan koud raak as jy in die winter kom kamp.
Kan ek my gesin neem? Ja
Net vir die dag of die naweek? Dagbesoekers én oornagkampeerders is welkom.
Die naaste dorp? Middelburg (36 km)
Hoe kom ek hier? Vat die N11 uit Middelburg in Groblersdal se rigting en draai ná 22km af op die Elandslaagtepad. Volg die bordjies na Buffalo Gorge.
Die naaste brandstof? Selonsrivier (15 km)
GPS: S25.51431 E29.56713
Waar kan ek bly?
In ’n safaritent óf jou eie tent, in ’n skaduryke kampterrein in die kloof met plek vir 40 mense. Die safaritente wissel van ’n groot enkelvertrektent wat 14 mense huisves tot koepeltentjies met matrasse waarin 4 mense kan bly. Die wittebroodkoepeltent het ’n dubbelbed met beddegoed, sy eie ablusiegeriewe en toegeruste boskombuis. Die groot gemeenskaplike boskombuis het ’n ys- en vrieskas.
Wat nog?
Wat moet ek spesiaal pak? Abseiltoerusting, sonroom, verkyker, voël- en boomboeke (80 bome is al geïdentifiseer)
Wat kan ek nog hier doen? Quad-fietsry, perdry (kort uitstappies, ritte in die maanlig en tweedagsafari’s word aangebied), stap, bergfietsry, abseil, rotsklim, voëlskyk en swem. As jy vooraf reël, kan jy op een van die buurplase gaan hengel. Jy kan ook 4x4-opleiding kry.
Koste
Roete: R200 per voertuig (dit sluit alle insittendes in)
Kampering: Eie tent - R75 p.p.p.n. Permanente safaritent - R250 p.p. vir twee nagte. Wittebroodtent – R1 450 vir twee mense vir twee nagte (dit sluit die roetebedrag in).
Kontak
Ryk Diepraam 013 245 1049; 083 528 9586; info@hhashi.co.za; www.hhashi.co.za







EK EN MY VROU DAVINA WAS AL DAAR BY BUFFALO GORGE EN DIS N WONDERLIKE PLEK WAAR JY SAAMSMELT MET DIE NATUUR.IN DIE AAND IS DIE BESTE PLEK LANGS DIE BAMBOESBOS BESIG OM VLEIS TE BRAAI EN NA DIE NAG GELUIDE TE LUISTER SAAM MET RYK EN VRIENDE MET JOU VROU LANGS JOU.